Pastorale Sorg

"Versorg soos herders die kudde van God in julle midde; hou toesig - nie uit plig nie, maar vrywillig,in ooreenstemming met die wil van God; nie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; nie baasspelerig oor wat hulle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde. En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie." 1 Petrus 5:2-4 AFR20


 

Besoeke

Geen roetine-huisbesoeke word gedoen nie.

  • ‘n Huisbesoek vind op aanvraag en per voorafbevestigde afspraak plaas. So ‘n afspraak kan deur ‘n lidmaat of die Pastoor aangevra word.

Hospitaalbesoeke word gedoen, maar word soms deur die volgende omstandighede bemoeilik:

  • Staatshospitale laat nie Pastore buite besoektye (gewoonlik 15:00 die middag) toe nie;
  • Hospitale is nie altyd binne ‘n vyftien kilometer radius nie en besoeke is dus baie tydrowend wanneer reistyd in ag geneem word. In sulke gevalle sal slegs kritieke pasiënte besoek word.
  • In beide die gevalle sal die Pastoor telefonies met die pasiënt en/of familie in verbinding probeer tree.

Berading

Die volgende tipes berading word aangebied:

  • Krisishantering: ‘n Krisis word gedefinieër as enige skielike gebeure of verlies wat jou van balans versteur en die moontlikheid het om langtermyn skade te doen, maar waarvan die ergste gewoonlik nie ‘n langer as ses maande duur nie. As dit langer as ses maande duur, is dit nie meer ‘n krisis nie, maar ‘n chroniese toestand. Voorbeelde hiervan is ‘n skielike sterfte, werkverlies, motorongeluk, ens. Berading fokus op intervensie, prioretisering, kontekstualisering, katarsis en beskikbaarstelling van tydelike bronne om onmiddellike nood te verlig.
  • Rousmart: In Rousmart berading kyk ons na tipiese gevoelsreaksies, gevoelsverdediging, gesonde en ongesonde rouprosesse. Hierdie vorm van berading behels assessering, individuele- en groepsgesprekke asook opvolg waar nodig.
  • Behandeling van Neurose: Neurose word gedefinieër as geboorte, kinderjare en ander trauma wat in jou latere lewe op ontelbare ongesonde maniere verplaas word in destruktiewe gedrags- en gevoelspatrone. Hierdie is ‘n baie gespesialiseerde veld en die basiese beginsels van “primal-” gekoppel met gebedsterapie word gevolg. Omdat dit ‘n intensiewe vorm van berading is, word dit gewoonlik oor ‘n lang periode aangebied.
  • Verslawing en Psigotiese Afwykings: As die assesseringsfase van enige pastorale berading aandui dat die persoon ‘n ernstige probleem met verslawing het of psigoties is, word hy/sy verwys vir gespesialiseerde hulp. Dieselfde geld vir krisisse, rousmart en/of neurose waar pastorale berading oneffektief blyk te wees of nie genoegsaam is nie.

Begrafnisse 

Aktiewe lidmate se begrafnisse is gratis met die uitsondering van ‘n skoonmaak- en multi-media fooi omdat ons van privaat mense gebruik maak om dit te doen. Die kostes is egter baie laag.

Begrafnisse kan op die volgende maniere plaasvind:

  • ‘n Roudiens (Geen kis).
  • ‘n Verassingsdiens (kis is in die kerk, maar daar is nie ‘n optog na ‘n begrafplaas toe nie).
  • ‘n Begrafnisdiens in die kerk waarna die afgestorwene begrawe word.
  • ‘n Diens by die graf.

Vir al vier opsies hierbo kan verversings in die kerk bedien word. Die kerk verskaf gewoonlik die tafels, stoele, tafeldoeke, breekware en eetgerei. Eet-en drinkgoed word deur die familie gereël.

Begrafnisdienste vir lidmate se onmiddellike familie wat nie in ons gemeente is nie, word teen ‘n verminderde tarief aangebied.

Begrafnisdienste vir nie-lidmate word selektief gedoen en teen die volle tarief.

Die proses verloop min of meer soos volg:

  • Pastoor word gekontak om datum en tyd te bevestig;
  • Pastoor ontmoet onmiddellike familie voor die begrafnis om al die reëlings te tref.

In Memorium Nissies

Ons het nissies beskikbaar waar mense hulle afgestorwe geliefdes se as kan plaas en met ‘n marmersteen kan toemaak.

Kostes beloop as volg;
R450 per nissie vir gemeentelede
R1000 vir nie-gemeentelede

Julle maak dus self die grafsteen volgens spesifikasies wat julle per epos van [email protected] kan aanvra.

Doop

Baie geluk, jy het die eerste stap geneem.

Jesus beveel ons om Sy voorbeeld te volg in alles, insluitend die doop:

Matteus 28:19 sê: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”

Jesus is aan die begin van Sy openbare bediening deur Johannes die Doper gedoop. Jesus se doop het vorentoe gekyk na Sy werklike doop aan die kruis waar Hy gesterf het en op die derde dag uit die dood opgestaan het. Die christelike doop kyk terug na Jesus wat reeds gesterf en uit die dood opgestaan het.

Deur gedoop te word bely ek dat ek saam met Hom gesterf het en saam met Hom in ‘n nuwe lewe opgestaan het.

 

Huweliksbevestiging

Prosedure

Alle navrae en/of aansoeke rondom huwelike moet aan die gemeente se sekretaresse gerig word by [email protected].

Vul die “Vorm vir Troues” in en heg dit aan bogenoemde epos of besorg data aan die gemeente sekretaresse. Die vorm kan by ons kerkkantoor bekom word of hieronder afgelaai word.

Ons bevel sterk aan dat u Harville Hendrix se boek, “Keeping the love you find”, by CUM boeke of aanlyn van www.loot.co.za bestel en deurwerk.

Dokumente

Al die onderstaande dokumente moet op die dag van u afspraak met Pastoor aan hom oorhandig word:

  • Gewaarmerkte afskrifte van die bruid en bruidegom se ID’s.
  • Afskrifte van beide die getuies se ID’s (dit is die getuies wat die register op die troudag moet teken. Albei moet ouer as 18 wees)
  • Drie ID foto’s van die bruid en bruidegom.
  • Indien u buite gemeenskap van goedere trou, moet u ‘n dokument verskaf wat bewys lewer van u Huweliksvoorwaardekontrak (HVK). Dit moet die aktekantoor se stempel ophê;
  • As die voorgenome bruid en/of bruidegom geskei is, moet afskrifte van die skeibriewe (die finale egskeidingsbevel) voorsien word.
  • Wewenaars en weduwees moet ‘n afskrif van die doodsertifikaat voorsien.
  • Die voornemende bruid en bruidegom moet albei Binnelandse Sake besoek en ‘n “Hanis Marriage Verication Form” vir beide partye aanvra. Dit is om seker te maak dat die voornemende egpaar in terme van Binnelandse Sake se rekords wettiglik mag trou.

Kostes

  • ‘n Administrasie fooi van R 1500.00 vir nie-lidmate en R 750.00 vir lidmate.
  • As die plek waar die huwelik bevestig word buite ‘n radius van 5km van Elspark af is, word reiskostes teen R3 per kilometer gehef.

Voorbeeld;

Nie-lidmate wat 50 km buite Elspark trou

R 1500.00 +R 3 (45km x 2)

= R 1500.00 + R3(R90)

= R 1500.00 +R 270

= R 1770.00

Kliek hier vir regulasies soos bepaal deur die Departement van Binnelandse Sake:

Kindertoewyding

Die AGS “doop” nie kinders toe nie. Jesus het egter die kindertjies geseën wat na Hom toe gebring is. In ooreenstemming hiermee, wy ons kinders aan die Here toe en bid ons dat Hy hulle sal seën. Dit word tydens ‘n diens gedoen.

Ouers wat ‘n kind/kinders wil laat toewy, kan Pastoor direk kontak.

Hierdie diens is gratis vir lidmate.

Kindertoewydings kan ook by ‘n huis of ander plekke gereël word en hoef nie op ‘n Sondag te gebeur nie. In so ‘n geval, is reiskostes ter sprake.

Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.

Romeine 12:4-5